
VERRIGTINGE VAN DIE WES-KAAPSE PROVINSIALE PARLEMENT


Die Huis kom om 14:15 byeen.

Die Speaker neem die Stoel in en lees die Gebed.

HUWELIKSWENSE

(Voorstel)

Mnr S E BYNEVELDT: Mnr die Speaker, ek stel sonder kennisgewing voor:

	Dat die Huis mnr C M Dugmore alle sterkte en voorspoed toewens met sy komende huweliksbevestiging.

Goedgekeur.

BESTE WENSE AAN BAFANA BAFANA

(Voorstel)

*Mnr Z C STALI: Mnr die Speaker, ek stel sonder kennisgewing voor:

	Dat die Huis Bafana Bafana sukses toewens met hul wedstryd teen Nigeri vandag, en verder die hoop uitspreek dat hulle as kampioene sal terugkeer.

Goedgekeur.

*Die SPEAKER: Orde! Ek vertrou dat die Staande Komitee oor Finansies, Ontwikkelingsbeplanning en Weddenskappe wat vanaand sal vergader, hulself die geleentheid sal gun om na 'n deel van die wedstryd te kyk.

*Mnr M OZINSKY: Kry dit op skrif!

*Die SPEAKER: Dit is hoe ek voel. Ek bedoel, dit moet voorrang geniet sodat hulle hulself geestelik kan voorberei vir hulle werk!

WES-KAAPSE FINANSIEWETSONTWERP

(Debat oor Derde Lesing)

Die MINISTER VAN MAATSKAPLIKE DIENSTE EN ARMOEDEBESTRYDING: Mnr die Speaker, dit is belangrik dat parlementre verrigtinge op 'n demokratiese maar ordelike wyse geskied. Dit is ewe belangrik dat lede se vryheid van spraak en uitdrukking nie op onbillike wyse aan bande gel word nie.

Ewe belangrik is die Rels van hierdie Huis, en die respek wat ons aan die Stoel verleen. Dit is die hoofrede waarom ek gister in hierdie Huis die koalisielede tot orde geroep het, om die Voorsitter se beslissings te respekteer.

Meneer, daar was egter beslissings van die Stoel wat ek dink nie bygedra het tot die orde in die Huis nie en wat u miskien onder die aandag van die Adjunkspeaker moet bring. Eerstens het die Voorsitter van Komitees tydens die Komiteestadium toegelaat dat vraestellers eers uitgerekte menings gee oor die meriete van die Begroting, in plaas daarvan om die vrae te stel. Tweedens was daar toegelaat dat vrae wyd loop ...

Mnr P C MCKENZIE: Mnr die Speaker, op 'n punt van orde: is dit toelaatbaar vir 'n ander lid om die Stoel te bevraagteken?

Die SPEAKER: Orde! Ek luister mooi na wat die agb Minister van Maatskaplike Dienste en Armoedebestryding s. As dit neerkom op die direkte bevraagtekening van die Stoel en kritiek op die Stoel, moet dit by wyse van 'n voorstel geskied. In die algemeen kan hy hom wel uitspreek, want die manier waarop die debatte in die komitees en in die Komiteestadium gevoer word, laat toe dat agb lede hulle wel kan uitspreek oor wat hulle ervaar het. Ons het dit in die verlede al gekry, selfs dat lede net die voorsitter bedank vir sy optrede by 'n komitee. [Tussenwerpsels.] Orde! Indien dit neerkom op direkte bevraagtekening van beslissings moet dit by wyse van 'n substantiewe voorstel geskied. Die agb Minister van Maatskaplike Dienste en Armoedebestryding moet dit liewer nie in daardie rigting voer nie.

Die MINISTER: Mnr die Speaker, ek bepaal my by u beslissing. Ek sal my daarby hou.

Meneer, 'n mens vind ook dat daar soms toegelaat word dat vrae wyd loop, in plaas van direk gestel word oor die bedrae in die Komiteestadium. Die Komiteestadium handel tog oor feite, en nie oor politieke punte aanteken of gekskeerdery nie.

Agb lede aan beide kante van die Huis moet ook leer dat wanneer ons in Komiteestadium is, die beslissing van drie vrae per lid nie willekeurig misbruik of uitgebuit word nie. Ek praat van wanneer 'n lid elke keer opstaan en vier vrae vra, en wanneer hy drie maal opgestaan het, het hy 12 vrae gevra. Ek het opgelet dit gebeur soms. Dit het nie gister gebeur nie, maar dit gebeur wel.

Mnr die Speaker, ons moet ook daarop let dat die aard van die vrae nie herhalend mag wees nie. Ek dink die Stoel het 'n plig dat wanneer die Stoel sien 'n vraag is herhalend, ...

Mnr P C MCKENZIE: Mnr die Speaker, op 'n punt van orde: is dit toelaatbaar dat die agb Minister van Maatskaplike Dienste en Armoedebestryding totaal kan afdwaal van die onderwerp wat voor die Huis dien? [Tussenwerpsels.] Hy het totaal afgedwaal van die derdelesingsdebat.

Die SPEAKER: Orde! Nee, ek is seker die agb Minister van Maatskaplike Dienste en Armoedebestryding sal binnekort by die Wetsontwerp en die redes kom. [Tussenwerpsels.] Ek moet dit toelaat. Ons het dit in die verlede beslis toegelaat dat lede kan praat oor hoe 'n wetsontwerp hanteer is en hoe die getuienis hanteer is. Hulle kan hulle daaroor uitspreek, so ek moet die agb Minister van Maatskaplike Dienste en Armoedebestryding toelaat om dit te doen.

Mnr A ISMAIL: Mnr die Speaker, op 'n punt van orde: by die afwesigheid van gister se presensielys voor my, wil ek graag vir u as Speaker vra of die agb lid mnr McKenzie gister tydens die debat in die Huis was.

Die SPEAKER: Orde! Dit is nie 'n punt van orde waaroor die Stoel hoef te beslis nie. Die agb Minister van Maatskaplike Dienste en Armoedebestryding kan voortgaan met sy toespraak.

Die MINISTER: Mnr die Speaker, ek gee toe dat lede se vryheid van spraak in enige debat gebalanseer moet word met die waardigheid van hul optrede en die statuur van die Huis. Gister het die gehalte van debatvoering 'n laagtepunt bereik. Hoewel daar reeds in die tweedelesingsdebat oor die globale bedrae gestem is, was die Komiteestadium gebruik om weer die beginsel te debatteer.

Ek wil voorstel dat alle voorsitters deeglik opleiding ontvang alvorens hulle toegelaat word om die Stoel in te neem vir komiteestadiums, anders kan verkeerde beslissings die Huis in 'n sirkus laat ontaard. Ek sou verwag het dat ...

Mnr P C MCKENZIE: Mnr die Speaker, op 'n punt van orde: die agb Minister van Maatskaplike Dienste en Armoedebestryding tree nou totaal teenstrydig op met u beslissing.

Die SPEAKER: Orde! Ja, die laaste opmerking is 'n refleksie ...

Mnr P C MCKENZIE: Hy moet dit terugtrek.

Die MINISTER: Jy moet voor my verskyn. Pasop, jy beter stilsit. [Gelag.] Jy moet jou nou gedra. [Gelag.]

Die SPEAKER: Orde! Die agb lid mnr McKenzie het sy punt gestel. In die laaste ...

Die MINISTER: Ek trek die opmerking terug.

Die SPEAKER: ... opmerking het die agb Minister van Maatskaplike Dienste en Armoedebestryding teen die Voorsitter gepraat, ...

Die MINISTER: Ja, dit is heeltemal teruggetrek.

Die SPEAKER: ... so hy moet dit terugtrek.

Die MINISTER: Hansard asseblief! [Gelag.]

*Mnr die Speaker, ek sou verwag het dat 'n redelike geleentheid tydens staande komiteevergaderings aan mense gebied sou word om hulself van sekere feite en syfers te vergewis. Miskien sou ons dan nie beleef het wat ons gister ervaar het nie. [Tussenwerpsels.] Terselfdertyd sou ek verwag het dat die eise om inligting redelike eise sou wees. As daar onredelike eise is, soos om die Onafhanklike Verkiesingskommissie te wil spreek en te wil h dat al die Ministers voor die komitee moet verskyn, kan ek nie anders nie as om saam te stem dat die voorsitter korrek opgetree het. Hy kan slegs redelik optree in reaksie op redelike versoeke. Die eise tydens die Komiteestadium was onredelik. Om aan te dring op die dagvaarding van die ...

Mnr M L FRANSMAN: Mnr die Speaker, op 'n punt van klaarheid: ...

Die SPEAKER: Orde! Daar bestaan nie so 'n punt nie. Ek sal dit as 'n punt van orde probeer hanteer. [Gelag.] Ek moet net eers klaarheid van die agb lid mnr Fransman kry waaroor dit gaan.

Mnr M L FRANSMAN: Mnr die Speaker, ek wil van die agb Minister van Maatskaplike Dienste en Armoedebestryding weet of hy s dat dit onregverdig was ...

Die SPEAKER: Orde! Nee, die agb lid mnr Fransman kan ook nie vrae stel sonder dat hy verlof vra nie.

*Die MINISTER: Mnr die Speaker, ek hoop dat u vanwe al die tussenwerpsels toegeeflik teenoor my sal wees sover dit tyd betref.

Die SPEAKER: Orde! Dit spyt my, die agb Minister se tyd is nou net mooi verstreke. Ongelukkig is dit so.

*Me T ESSOP: Mnr die Speaker, wat ons gister in die Huis beleef het, was 'n ongelooflike vertoning van onbevoegdheid aan die kant van die Kabinet. Daar was nie 'n enkele Minister wat tydens die Komiteestadium kon opstaan en verduidelikings kon verskaf of rekenskap kon gee van die bedrae wat in sowel Bylae 1 as 2 bestee is nie, ... [Tussenwerpsels.] ... behalwe die agb Minister van Vervoer en Werke. [Tussenwerpsels.] Ek sal geen vrae neem nie.

Die SPEAKER: Orde! Orde! [Tussenwerpsels.]

Me T ESSOP: Mnr die Speaker, ek wil graag my vorige stelling wysig en byvoeg "behalwe die agb Minister van Vervoer en Werke". Ek dink dat hy hom op 'n uiters professionele en bevoegde wyse gedra het. [Tussenwerpsels.] Hy het die waarde daarvan ingesien om 'n rekenpligtige en deursigtige proses tydens die Komiteestadium te h. Hy het die ekstra myl geloop om die inligting te bekom wat ons in die Huis nodig gehad het.

Nie een van die ander agb Ministers in sowel die Nuwe NP as die DP kon ons van antwoorde voorsien rakende geld wat uit hul begrotingsposte gekom het nie. [Tussenwerpsels.]

Die SPEAKER: Orde! Orde!

Me T ESSOP: Mnr die Speaker, dit was 'n vertoning van onbevoegdheid. Dit was nie slegs 'n vertoning van onbevoegdheid nie, maar 'n toonbeeld van 'n algehele verontagsaming van die parlementre proses in die Huis.

Die proses om te verseker dat Ministers rekenpligtig gehou word en dat daar toesig is - veral oor die gebruik van belastingbetalers se geld - is 'n kernbelangrike element van die rol van die Provinsiale Parlement. Daar is 'n algehele verontagsaming van daardie proses as Ministers hierheen kom en s dat hulle nie enige besonderhede oor die uitgawes kan verstrek nie; hulle sal die inligting in 'n later stadium verkry; hulle kan slegs spekuleer oor waarheen die geld is en wat daarvan geword het; en hulle sal na ons terugkom met skriftelike antwoorde. Na al daardie gedetailleerde nie-verduidelikings het hulle dan die vermetelheid om voort te gaan en die uitgawe te magtig!

Die twee strook nie met mekaar nie. As 'n Minister nie rekenskap kan gee van die geld nie, hoe is dit moontlik dat hy dan die magtiging van die besteding van daardie geld kan goedkeur?

Mnr die Speaker, daar is 'n versinsel en 'n fout in die logika wat deur daardie kant van die Huis voorgehou word. Baie Ministers het ges dat hulle geweet het dat dit die waarheid is omdat hul amptenare hulle van die inligting voorsien het; hulle het 'n baie goeie werkverhouding met hul amptenare en hulle het hulle meegedeel dat dit die waarheid was.

Dit is baie goed dat Ministers 'n goeie werkverhouding met hul amptenare het; dit word nie in twyfel getrek nie. Wat bevraagteken word, is die uiteindelike logika dat hulle daarom geglo het dat daar rekenskap van die geld gegee is. Dit is 'n wesenlike fout.

Die MINISTER VAN MAATSKAPLIKE DIENSTE EN ARMOEDEBESTRYDING: Wat van Sarafina se geld?

*Me T ESSOP: Dit beteken dat Ministers nie die verantwoordelikheid aanvaar om rekenskap te gee van geld wat aan hul departemente toegeken is nie.

Die MINISTER VAN ONDERWYS: [Onhoorbaar.]

Me T ESSOP: Wanneer die Wetsontwerp op die Bestuur van Openbare Finansies goedgekeur word, sal Ministers moet begryp dat hulle 'n veel groter rol te vervul het om verantwoording te doen vir hul geld. [Tussenwerpsels.]

Mnr die Speaker, ... [Tussenwerpsels.] ... die agb Minister van Maatskaplike Dienste en Armoedebestryding ... [Tussenwerpsels.] Mnr die Speaker, kan die agb Minister van Onderwys haarself asseblief daarvan weerhou om voortdurend tussenwerpsels te maak? [Tussenwerpsels.]

Mnr die Speaker, die agb Minister van Maatskaplike Dienste en Armoedebestryding ...

Die SPEAKER: Orde! Orde!

Me T ESSOP: Mnr die Speaker, die agb Minister van Maatskaplike Dienste en Armoedebestryding het aangedui dat wat ons moet doen, is om die feite te hanteer. Die feit is dat geen feite gister aan ons voorgehou kon word nie. Ek wil die agb Minister graag vra of hy weet waarom ons tydens die Komiteestadium na die Huis gekom het met daardie gedetailleerde vrae. Die feit van die saak is dat die regerende koalisie tydens 'n SKOF-vergadering die pad verkies het om hierdie stuk wetgewing deur te stoomroller. [Tyd verstreke.]

*Mnr G R STRACHAN: Mnr die Speaker, ek wil graag met die agb lid me Essop saamstem. [Tussenwerpsels.] Ek sal by daardie agb lid kom. Die Kabinet het 'n dienstige ... [Tussenwerpsels.] ... besluit geneem om hierdie geld te bestee en hulle moes 'n manier vind om dit te regverdig.

Mnr die Speaker, wat hulle inderdaad gedoen het, was om die Staatsdienskorps en die Tesourie, wat hul versoek moes afkeur en verduidelik dat dit ongemagtigde uitgawe was, in die verleentheid te stel. Hulle het verder gegaan en die Tenderraad in die verleentheid gestel met 'n ander kontrak, wat ons later sal bespreek. Hulle het 'n bespotting van demokrasie en deursigtigheid gemaak, want in die Staande Komitee oor Finansies, Ontwikkelingsbeplanning en Weddenskappe wou hulle geen bespreking van die saak toelaat nie. Dit alles vervaag egter tot onbenullighede as ons gister se optrede van nader beskou.

Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om die agb Minister van Vervoer en Werke geluk te wens. Die ander agb Minister wat baie goed gevaar het, is die agb Minister van Ekonomiese Sake en Toerisme, hoofsaaklik omdat hy nie nodig gehad het om iets te s nie. [Gelag.] Hy hoef nie te verduidelik het van watter program die fondse in sy departement gekom het nie; hy hoef nie te verduidelik het hoeveel lede van sy departement ontplooi was en waar hulle ontplooi was en wat die gevolge vir sy departement was nie; en hy hoef nie tydens gister se debat ernstig te gedink het oor of hy die begrotingspos ondersteun het en met die besluit saamgestem het of nie. As die res van die Ministers met hul matriekeksamens besig was, sou hulle bygedra het tot die beroerde statistieke van matriekeksamenuitslae. [Tussenwerpsels.]

Mnr die Speaker, die agb Minister in die Kantoor van die Premier kon slegs spekuleer oor uit watter program die geld moontlik bespaar kon word. [Tussenwerpsels.] Die agb Minister van Onderwys het nie geweet of onderwysers ontplooi is nie. In Kaapstad is dit die geheim wat die swakste bewaar is dat honderde onderwysers in die kieserregistrasieproses ontplooi is. [Tussenwerpsels.] Ons wil graag weet ... [Tussenwerpsels.] ... waar hulle ontplooi was en wat die gevolg van hul werk was, nie bloot dat 786 000 kiesers geregistreer is nie. [Tussenwerpsels.]

Die SPEAKER: Orde! Orde!

*Die MINISTER VAN ONDERWYS: Mnr die Speaker, ek wil die agb lid mnr Strachan graag vra of hy daarvan bewus is dat Sadou-onderwysers ...

*Die SPEAKER: Orde! Die agb Minister van Onderwys kan nie 'n vraag stel voordat toestemming aan haar verleen is om 'n vraag te stel nie. Wil sy toestemming vra om 'n vraag te stel?

*Die MINISTER VAN ONDERWYS: Ja, mnr die Speaker. Is die agb lid mnr Strachan bereid om 'n vraag te neem? [Tussenwerpsels.]

*Mnr G R STRACHAN: Nee, mnr die Speaker.

*Die SPEAKER: Orde! Die agb lid mnr Strachan is nie bereid om 'n vraag te neem nie en ons kan hom nie dwing om dit te doen nie. [Tussenwerpsels.]

*Mnr G R STRACHAN: Mnr die Speaker, dit is Samuel Johnson wat ges het, "Patriotism is the last refuge of the scoundrel."  Die laaste toevlug van onbevoegdheid is om op ligsinnigheid terug te val. Dit is wat die agb Minister van Finansies en Ontwikkelingsbeplanning gister gedoen het - woordeboeke, grappies oor gekke en dies meer. In werklikheid is 'n algehele afwesigheid van inligting omtrent die rande en sente wat in hierdie Administrasie bestee is, verbloem deur al die grappies. Dit is nie ...

*Mnr N M ISAACS: Mnr die Speaker, op 'n punt van orde: is dit parlementr om na 'n agb lid as 'n "scoundrel" te verwys? [Tussenwerpsels.] Was die bedoeling in enige stadium om dit op enige lid in die Huis van toepassing te maak? [Tussenwerpsels.] Ek verwys na die aanhaling, want die aanhaling is hier van toepassing.

*Die SPEAKER: Orde! Dit is nie parlementr om na 'n ander lid as 'n "scoundrel" te verwys nie, maar die agb lid mnr Strachan het dit nie gedoen nie. Hy het 'n algemene aanhaling gemaak en in die volgende sin het hy voortgegaan en oor ligsinnige optrede in gister se debat gepraat. Ek bevind dat dit in orde is; ek kan nie teen die agb lid beslis nie. Die agb lid mnr Strachan mag voortgaan.

*Mnr G R STRACHAN: Mnr die Speaker, die agb Minister van Finansies en Ontwikkelingsbeplanning het ges dat ons skuldig was aan obstruksievoering; presies die teenoorgestelde was waar.

*Die MINISTER VAN GEMEENSKAPSVEILIGHEID, SPORT EN ONTSPANNING: [Onhoorbaar.] ... obstruksievoering.

*Mnr G R STRACHAN: Ek bedank die agb Minister. Die Nuwe NP en die DP het nie 'n behoorlike proses in die staande komitee toegelaat nie; dit was obstruksievoering. Die Ministers ... [Tussenwerpsels.] ... het nie een van die vrae beantwoord nie. Hulle het stellings gemaak soos "ditto". [Tyd verstreke.]

*Mnr M OZINSKY: Mnr die Speaker, gister in die debat het die agb lid mnr N M Isaacs punte beklemtoon waaroor ons reeds verduidelik het dat dit nie die inhoud van die briewe was wat voorgelees is nie. Ek wil vir die inligting van die Huis die korrekte volgorde van gebeure rakende briewe wat van die nasionale Regering na die Provinsie gekom het, herhaal. [Tussenwerpsels.]

Op 16 November 1998 het eerw Lulumile Mbete, die Direkteur-generaal van die Gauteng Provinsie, aan die Direkteur-generaal van hierdie Provinsie geskryf. Hy het in sy brief ges dat die Direkteur-generaal van die Staatsdiens en Administrasie, dr Ncholo, die vergoedingsbeleid vir alle personeel wat ontplooi wou word, uitgewerk het en besig was om dit te versprei. Om die waarheid te s, op daardie selfde dag het dr Ncholo aan hierdie Provinsie geskryf en dit in sy brief baie duidelik gestel dat staatsamptenare nie geldelike vergoeding sou ontvang nie. Ter wille van die agb lid mnr Isaacs haal ek aan uit die brief aan alle staatsamptenare, onder die opskrif "Dear Colleague". Onderaan, in punt 6, word ges:

	Public servants deployed for this purpose will not receive monetary compensation. However, during their working week volunteers will receive time off equal to the number of hours worked over this weekend.

Vir diegene wat die korrespondensie ontvang het en dit gelees het, moet dit baie duidelik wees dat hoewel die kwessie dat daar moontlik vergoeding mag wees oorspronklik in die vergadering van Direkteurs-generaal opgehaal is, daar 'n baie vinnige reaksie van die nasionale Regering in hierdie verband was. Dit behoort daarom vir die agb lid mnr N M Isaacs baie duidelik te wees dat dit nooit die bedoeling van die nasionale Regering was om staatsamptenare geldelik te vergoed nie. Die oogmerk van die gebruik van staatsamptenare vir hierdie oefening was inderdaad om die belastingbetaler geld te bespaar.

*Die LEIER VAN DIE HUIS: Goedkoop arbeid!

*Mnr M OZINSKY: Mnr die Speaker, dit was om die belastingbetaler geld te bespaar. Wat gebeur het, is dat die DP/Nuwe NP-regering van hierdie Provinsie daardie feit verontagsaam en die geld verkwis het.

Mnr die Speaker, ons beweer dat die werklike oogmerk ... [Tussenwerpsels.] ... van hierdie betaling was om te verseker dat die Nuwe NP ten minste in hierdie provinsie stemme sou trek.

As ons na verlede jaar se verkiesingsuitslae kyk en dit met die verkiesingsuitslae van 1994 vergelyk, en dit is ook in antwoord op 'n vraag wat die agb lid mnr N M Isaacs gister aan my gevra het, sal ons sien dat die getal stemme wat die Nuwe NP getrek het met 45,5% gedaal het. In werklike getalle is dit oor die 500 000 stemme minder. Oor dieselfde tydperk het die ANC se stemme met slegs 4,2% gedaal - 30 000 stemme in werklike getalle. [Tussenwerpsels.] Dit moet regtig ... [Tyd verstreke.]

Mnr A ISMAIL: Mnr die Speaker, as voorsitter van die Staande Komitee oor Finansies, Ontwikkelingsbeplanning en Weddenskappe vind ek dit skokkend dat die agb lid mnr Ozinsky nie by die meerderheidsbeslissing van die staande komitee wil bly nie. Ek dien slegs as die voorsitter, en ek het 'n baie neutrale posisie beklee. [Gelag.] As die ANC "bulldozing" doen in die NRVP en by die Nasionale Vergadering, is dit "the will of the people". [Tussenwerpsels.] As die Nuwe NP en die DP presies dieselfde taktiek in 'n staande komitee gebruik, noem hulle dit 'n gestoomroller. [Tussenwerpsels.]

Ek wil die Kabinet, die agb Premier en die agb Ministers vandag bedank dat hulle ten minste gister in die Huis bewys het dat ons eerlik is, en wanneer hulle nie 'n antwoord het nie, verskaf hulle dit aan agb lede binne die kortste moontlike tydsverloop. Nie een van die lede van die Kabinet het opdrag om 'n leuen te vertel nie. [Tussenwerpsels.] Dit is nie die Huis van Johannes Mahlangu nie. [Gelag.] Dit is nie Mpumalanga nie, maar die Wes-Kaap. Ons het die beste Administrasie, en ons het 'n prys daarvoor gekry. Ons het die minste amptenare wat oneerlik is.

Kom ons kyk na die rekord wanneer vrae aan die nasionale ANC-Ministers gestel word. Net verlede jaar het ANC-Ministers in die Nasionale Vergadering nooit opgedaag wanneer van hulle verwag was om vrae in die Huis te beantwoord nie. [Tussenwerpsels.] Daar is wyd daaroor gerapporteer in baie koerante.

*Mnr die Speaker, die rels van politiek is hoofsaaklik ongeskrewe. Gister het daardie feit baie - miskien die meeste - van die deelnemers hier van hul verpligtinge onthef. Meneer, ek verwys na die parlementre proses waarna die agb lid me Essop verwys het. Daar is 'n parlementre proses in hierdie Huis. Ons sou nie 'n parlementre program op ons lessenaars gehad het, en ook nie op daardie agb lid se lessenaar laat aflewer het, as die Swepe van die onderskeie partye nie 'n ooreenkoms bereik het nie. Daar was tydrame en tydgleuwe vir wat ons moes doen.

Wat gister in die Huis gebeur het, het egter die indruk gewek dat daar geen rels in die Huis was nie. Elkeen wou doen wat hy of sy wou doen, ten koste van die belastingbetaler. Waarom voer ons nie nou debat oor hoeveel geld die ANC die belastingbetaler kos as gevolg van die sinnelose argumente wat hulle gister opgehaal het nie?

Die ANC wou h dat die Staande Komitee oor Finansies, Ontwikkelingsbeplanning en Weddenskappe die Onafhanklike Verkiesingskommissie en elke Minister kragtens artikel 115 van die Grondwet moes dagvaar om getuienis voor die staande komitee te lewer.

*Me T ESSOP: Wanneer het ons ... [Onhoorbaar.]

*Mnr A ISMAIL: Dit is die enigste artikel in die Grondwet wat ons daarvoor kan gebruik, en die agb lid me Essop het die woord "dagvaar" gebruik.

*Me T ESSOP: Dit is die enigste artikel - ons weet.

*Mnr A ISMAIL: Dit is die enigste artikel wat ons kan gebruik.

Verlede jaar - indien die agb lid dit kan onthou - het die ANC beswaar gemaak teen die dagvaarding van die nasionale Minister van Veiligheid en Sekuriteit na hierdie Huis. [Tussenwerpsels.] Dit is die soort dubbelpratery wat ons hoor. [Tussenwerpsels.]

Mnr die Speaker, as voorsitter van die SKOF deel ek die Huis mee dat ons die Wes-Kaapse Finansiewetsontwerp, 2000, ondersteun. Namens die staande komitee bedank ek die agb Ministers vir hul eerlikheid en dat hulle ten alle tye beskikbaar was.

*Die MINISTER VAN FINANSIES EN ONTWIKKELINGSBEPLANNING: Mnr die Speaker, ek het beslis niks van die ander kant van die Huis gehoor wat my oorreed om enigsins anders op te tree as my vriend die agb lid mnr Strachan - ek gebruik die woord "vriend" slegs vir beskrywende doeleindes - wanneer hy oor ligsinnigheid praat nie. [Gelag.] Ek het diep gedink oor wat hy ges het en ek is van voorneme om met my ligsinnigheid voort te gaan. As hy geen sin vir humor het en nie 'n bietjie humor tussen die erns kan waardeer nie, dan is ek bevrees ek moet s dat ek baie jammer voel vir hom. Miskien is dit as gevolg van sy agtergrond van kommunistiese bedrywighede. [Gelag.]

Mnr die Speaker, nadat ek dit ges het, wil ek probeer om onweerlegbaar te bewys waarmee my kollegas in die ANC gister besig was. Hulle is sekerlik daarop geregtig om vrae te stel - drie, vier of twintig vrae elk - maar wat is die doel daarvan om tydens 'n Komiteestadium vrae te stel? Die doel is om te kan luister, om verdere inligting te bekom en dan aandag te gee aan of 'n mens na hierdie kant of daardie kant oor die saak gaan stem.

'n AGB LID: Of oor of u besig is om u werk te doen of nie?

Die MINISTER: Ek sal aan daardie agb lid die geleentheid bied. Hy kan voortgaan. Is hy klaar? [Tussenwerpsels.] Hy het 'n geleentheid gehad om te praat. Hy moet my laat praat en probeer om te luister.

Mnr die Speaker, wat ek s, is die volgende ... [Tussenwerpsels.] Hulle stel vrae, en hier stel hulle vrae aan my kollega die agb Minister van Vervoer en Werke, en twee van die sprekers het hom geprys. Hulle het hom gelukgewens omdat hy die antwoorde verstrek het, maar wat het gebeur toe sy begrotingspos gestel is? Hulle het daarteen gestem. [Tussenwerpsels.]

Die punt wat ek wil maak, is dat hulle hierdie proses ingegaan het met 'n vooropgestelde standpunt dat hulle hoegenaamd nie van voorneme was om op enige ander wyse te stem nie, en dit was vertragingstaktiek. Dit was 'n poging om die proses teen die wense van die mense en ten koste van die mense in die wiele te ry. Daarom, mnr die Speaker, ...

*Me T ESSOP: Watter mense?

*Die MINISTER: Die mense daar buite. [Tussenwerpsels.] Al die mense daar buite. Hulle het die tyd ... [Tussenwerpsels.] ... van die Provinsie verkwis en hulle het geld verkwis. [Tussenwerpsels.]

Mnr die Speaker, ek wil voortgaan en herhaal wat ek ges het. Dit voel soos 'n jaar gelede. Ek wil die vraag herhaal: wat sou hulle verwag het - en ek vra dit aan die mense van die hele provinsie, met inbegrip van die mense wat vir die ANC gestem het, by vergissing ... [Gelag.] Toe ons in die Kabinet gesit het en geluister het na Eerwaarde ...

*Die MINISTER VAN MAATSKAPLIKE DIENSTE EN ARMOEDEBESTRYDING: Meshoeshoe. [Gelag.]

*Die MINISTER: Nee. Wat is sy naam?

'n AGB LID: Sampson.

Die MINISTER: Ons het van eerw Sampson gehoor dat op 'n gegewe tydstip - en ek vergeet die datum; ek vra om verskoning, ek het weer nie my feite agtermekaar nie - slegs 50% van die totale bevolking geregistreer het. Ons het 'n verslag van die Direkteur-generaal ontvang wat daarop neerkom dat hy nie genoeg mense gekry het wat bereid was om na vore te kom en verniet te werk nie - vrywilligers. Wat moes ons doen? Ek glo dat hierdie Kabinet die korrekte en dapper, ...

'n AGB LID: Verantwoordelike.

Die MINISTER: ... en verantwoordelike besluit in die belang van die OVK-proses geneem het.

AGB LEDE: Hoor, hoor!

Die MINISTER: Kom ons kyk na die feite van die saak. Gister het ek die syfer aangehaal wat ons gehad het tydens daardie tydperk toe ons hierdie koers ingeslaan het. Ongeveer 750 000 mense het geregistreer. Die lakmoestoets gaan oor die kleur, en die lakmoestoets is dat wat ons gedoen het ten einde die totale persentasie mense in hierdie provinsie te vermeerder en hulle op die lyste te plaas sodat hulle kon stem, die korrekte stap was. Dit is gedoen vir mense wat grootliks hulpbehoewend was. Dit, glo ek, is demokrasie. [Tussenwerpsels.] Ek glo ...

*Die MINISTER VAN MAATSKAPLIKE DIENSTE EN ARMOEDEBESTRYDING: Ons het hulle gemors reggemaak! [Tussenwerpsels.]
*Die MINISTER: Presies. Indien, in die eerste plek, die nasionale Kabinet sy belofte nagekom het en sy grondwetlike taak verrig het - en beloof het om die regte bedrag geld aan die OVK te gee - sou dit nie vir ons nodig gewees het om die geld uit te gee nie. [Tussenwerpsels.] Dit is die antwoord, en dit is daarom vir my baie aangenaam om die Derde Lesing van die Wetsontwerp voor te stel.

Debat afgesluit.

Wetsontwerp vir die derde maal gelees (met teenstem van ANC).

WES-KAAPSE AANSUIWERINGS-
BEGROTINGSWETSONTWERP, 2000

(Indiening en Eerste Lesing)

*Die MINISTER VAN FINANSIES EN ONTWIKKELINGSBEPLANNING: Mnr die Speaker, ek het 'n moeilike dag. Vergun my om te begin met miskien die grootste prioriteit van my toespraak - om die Huis mee te deel dat dit vandag dr J C Stegmann se verjaardag is. Ek dink ons behoort hom geluk te wens. Ek is seker dat dit hom diep in die verleentheid stel, maar ek doen dit in die openbaar.

Mnr die Speaker, die Aansuiweringsbegroting word vandag ter Tafel gel om die goedkeuring van hierdie Parlement kragtens die Wes-Kaapse Skatkiswet te versoek vir sekere aanpassings in die 1999-2000-begroting.

Agb lede sal onthou dat ek in my Begrotingsrede op 24 Februarie 1999 sekere beloftes gemaak het, onder meer die uitoefening van fiskale dissipline. Dit is vir my aangenaam om soos volg aan die Huis verslag te doen: dit is die tweede jaar agtereenvolgend dat ons bewys het dat ons uitgawedruk kan beperk, soos agb lede sal sien uit die syfers wat vir hulle aangebied is.

Ons het 'n beter stelsel van finansile verslagdoening ingestel wat 'n meer gestruktureerde benadering tot gebeurlikheidsverpligtinge insluit. Soos onderneem is, het ons daarin geslaag om ons skulddelging aansienlik te bespoedig, in ooreenstemming met die ooreenkoms wat tussen hierdie Regering en die nasionale Ministerie van Finansies aangegaan is. Ek sal meer hieromtrent s in die Hoofbegroting wat op 28 Februarie 2000 ter Tafel gel sal word. Ons het daarin geslaag om die bedrag van oorrolfondse aansienlik teenoor vorige jare te verminder. Ek sal later na hierdie item terugkeer.

Die ander klem in die 1999-2000-Hoofbegroting is op dienslewering geplaas. Ek wil aanvoer dat die resultate duidelik genoeg is vir almal om te sien, hoewel my Kabinetskollegas hierop sal uitbrei. Aan hierdie onderneming is verdere stukrag verleen deur die agb Premier se aankondiging van die 100-dae projekte, waarvan die Huis natuurlik ten volle bewus is.

Ons het voet by stuk gehou rakende die voorwaarde dat daar in die toekoms nie van departemente verwag sal word om ander by te staan in gevalle waar di probleme met hul begrotings ondervind nie. Dit het meer sekerheid in begrotingopstelling en mediumtermyn fiskale beplanning verskaf. Agb lede sal merk dat, soos belowe - en, weer eens, ons kom ons beloftes na - geen voorsiening gemaak is vir enige oorbesteding in Gesondheid en Onderwys en, wat dit betref, enige ander departement nie.

In ooreenstemming hiermee het ek onderneem om die doeltreffendheid van finansile administrasie te verbeter. As ons die R135 miljoen ten opsigte van die casinolisensie weglaat, is dit inderdaad een van die kleinste Aansuiweringsbegrotings wat nog ooit ingedien is, wat bewys dat ons op die regte pad is.

Agb lede sal onthou dat ek ten opsigte van die R135 miljoen casinolisensiegeld aangedui het dat die hele bedrag in kapitaalprojekte teruggeploeg sou word en spesifiek op paaie en werke gemik sou wees. Ek het egter ook terselfdertyd belowe dat ons ons bes sou doen om 'n veilige en stabiele beleggingsklimaat in die Wes-Kaap te skep en dat ons na die armstes onder die armes sou kyk. Teen hierdie agtergrond het die Kabinet besluit om 'n totaal van R15 miljoen van die casinobodgeld aan Armoedebestryding en Veiligheid en Sekuriteit toe te wys, en besonderhede daarvan kan van die verantwoordelike Ministers verkry word. Ek het dit reeds aangekondig.

Laat my toe, aangesien dit die eerste geleentheid sedert verlede jaar se verkiesing is, om die belangrikste verskuiwings onder die toepaslike opskrifte in die Aansuiweringsbegroting te hanteer.

Die eerste is die verskuiwing van fondse van die Nasionale Inkomstefonds. 'n Bedrag van R225,188 miljoen is toegewys vir verbetering van diensvoorwaardes, wat R22 miljoen meer is as oorspronklik aangedui in die Hoofbegroting. 'n Totale bedrag van R83,040 miljoen is ontvang as verdere voorwaardelike toewysings van nasionale departemente. Hierdie bedrag sluit toewysings in vir die bevordering van finansile bestuur in onderwys, R15,168 miljoen; hospitaalrehabilitasie, R19,138 miljoen; finansile bystand en bestuursteunprogramme vir plaaslike owerhede, R13,550 miljoen; die finansile bestuur van bestaansbeveiligingstelsels, R3,405 miljoen; verbetering van diensvoorwaardes vir tydelike onderwysers, R5,696 miljoen; en R1,757 miljoen vir grondontwikkelingsdoelwitte.

As deel van die nasionale Aansuiweringsbegroting vir 1999-2000 het die provinsiale sfeer 'n bykomende R1,4 miljard ontvang wat volgens die billike gedeelte formule toegewys sou word. Die Wes-Kaapse deel bedra R139,4 miljoen. Hierdie bedrag sal opsy gesit word om uitstaande skuld te verminder en mag nie gebruik word om ander besteding te verhoog nie. Onder soortgelyke voorwaardes as wat van toepassing was op verlede jaar se toekenning van R1 miljard aan die provinsiale sfeer vir skuldterugbetaling is fondse aan die Provinsie beskikbaar gestel nadat 'n ooreenkoms bereik is oor uitgawe- en inkomstevlakke vir 1999-2000 en beramings van uitstaande skuld.

Die volgende opskrif is die herbegroting van geld wat in die vorige boekjaar deur die Provinsiale Parlement begroot is, maar nie bestee is nie - die sogenaamde oorrolfondse. Oorrolfondse uit die 1998-99-boekjaar het R55,812 miljoen bedra, met inbegrip van R14,14 miljoen vir die Rosendal Sorgfasiliteit; R1,81 miljoen vir die Toerismeraad; R1,255 miljoen vir die kaart- en kameraprojek; R11,178 miljoen vir die onderskeie HOP-projekte; en R5,144 miljoen vir brandskade en beskermende klere.

Mnr die Speaker, as 'n mens die bedrag van R55,812 miljoen vergelyk met die oorrolbedrag van R115,479 miljoen van 1996-97 na 1997-98, en R107,206 miljoen van 1997-98 na 1998-99, sal jy 'n groot vermindering waarneem. Dit is bereik vanwe beter finansile beplanning en groter en verbeterde fiskale dissipline.

My volgende opskrif is die bewilliging van geld vir die dienste van die Provinsie ten opsigte waarvan geen of onvoldoende fondse in die betrokke boekjaar bewillig is en wat slegs bewillig kan word ten opsigte van uitgawes wat deur die Provinsiale Tesourie as onvoorsien en onvermybaar beskou word. In die boekjaar is R1,94 miljoen vir die Manenberg ramp aan die Begrotingspos Onderwys toegewys. Die saldo van die totale bedrag van R13,3 miljoen sal in die komende boekjaar verskaf word. Dit het beteken dat ons ons oorspronklike begrotingsplanne moes herprioritiseer.

Ek wil net graag 'n oomblik hierby stilstaan, mnr die Speaker, want wat gebeur is dat, ek kan nie onthou of dit vier of vyf is nie, noodsaaklike skole in minderbevoorregte gebiede nie gebou sal word nie. Dit sal tot die volgende boekjaar uitgestel moet word. Dit was vir my baie ontstellend, want ek glo dat die Sentrale Regering die geld moet verskaf wanneer daar 'n ramp soos hierdie een is. [Tussenwerpsels.] Dit is nie goed genoeg nie, en ek is bly dat die agb lid die TV-kameras meld. Dit is heeltemal waar dat die nasionale Minister van Onderwys rondgegaan het, na die skole gekyk het en so te s die herbou van die skole belowe het. [Tussenwerpsels.] Goed. Hy het belowe dat die skole herbou sal word, maar as ons na die Sentrale Tesourie gaan sodat hulle die geld kan verskaf, ontvang hierdie Provinsie ... [Tussenwerpsels.] Wil die agb lid weet hoeveel ons ontvang het wat die Manenberg ramp betref? Heeltemal niks. [Tussenwerpsels.]

Mnr die Speaker, dit is 'n aangeleentheid wat ek spesifiek in die vergadering van die Begrotingsraad gaan bespreek, want die Sentrale Regering ... [Tussenwerpsels.] ... het 'n verantwoordelikheid wanneer rampe in hierdie land voorkom. Ek praat nie slegs namens hierdie Provinsie nie, want die ander Ministers van Finansies in die ander provinsies dink in dieselfde rigting as ek.

*Me T ESSOP: U s dit altyd.

*Die MINISTER: Weet die agb lid waarom ek dit altyd s? Omdat dit waar is.

*Me T ESSOP: Omdat u u opmerkings moet regverdig.

*Die MINISTER: Ek is op die punt om my opmerking weer te regverdig deur agb lede mee te deel dat dit tydens die Begrotingsraadvergadering van 14 Januarie 2000 die eenparige standpunt van al die Ministers van Finansies - al nege van hulle - was dat die huidige beleid rakende kwessies van rampe heroorweeg moet word. 'n Taakspan is aangestel om op die saak in te gaan.

Die punt wat ek egter wil beklemtoon ... [Tussenwerpsels.] Die agb lid mnr Ozinsky moet nie so dikwels tussenwerpsels maak nie en hom meer by die feite bepaal wanneer hy briewe aan die Cape Argus oor beplanning skryf en seker maak dat dit meer akkuraat is. Hy behoort sy tyd daar te bestee en sy woordeboek meer dikwels te raadpleeg. [Tussenwerpsels.]

Mnr die Speaker, die volgende opskrif is fondse uit verhoogde provinsiale inkomste en surplusse. Die uitwerking van die R135 miljoen wat deur die metropolitaanse casinobodgeld ingesamel is, was dat die vorige teiken vir eie inkomste met 'n netto R127,256 miljoen verhoog is, van R443,260 miljoen tot R570,516 miljoen. R10,8 miljoen is uit verhoogde motorvoertuiglisensiegeld aan Vervoer en Werke toegewys en R735 000 uit verskeie bronne aan Landbou.

Die volgende begrotingsposte - weer eens, gelukwense aan die agb Minister van Vervoer en Werke - het ook bykomende toewysings uit surplusse ontvang. 'n Gedeelte van 'n totaal van R516 000 is aan verskeie begrotingsposte toegewys vir die nuwe pensioenfonds vir politieke ampsbeklers. Is almal gelukkig hieroor? Dankie. Ek wou net eenstemmigheid oor daardie punt verkry. Die Begrotingspos vir die Provinsiale Parlement het 'n verdere R633 000 ontvang vir die verbetering van voordele vir lede. Is almal gelukkig? R3 miljoen is aan die Premier se Begrotingspos toegewys vir administratiewe steun vir kiesersregistrasie vir die komende plaaslike regering verkiesings. R5,212 miljoen is aan verskeie begrotingsposte toegewys vir J2K-gebeurlikhede. R2,197 miljoen is aan die Begrotingsposte Onderwys en Gesondheid toegewys vir die vergoeding van koste aangegaan vir bystand met die registrasie van kiesers vir die nasionale verkiesings verlede Junie. Die Begrotingspos Omgewing- en Kultuursake en Sport het R442 000 ontvang vir die daarstelling van die Natuurbewaringsraad.

Die volgende opskrif is finansile dissipline. Ten einde finansile dissipline af te dwing en die Kabinetsbeginsel toe te pas dat oorbesteding 'n eerste las teen 'n spesifieke begrotingspos vir die daaropvolgende boekjaar sal vorm, is bedrae van R3,863 miljoen en R1,258 miljoen ook in die Provinsiale Inkomstefonds opgeskort vir onderskeidelik die Begrotingsposte Gesondheid en Onderwys vir 1998-99. [Tussenwerpsels.] Finansile dissipline.

Dit is vir my aangenaam om aan hierdie Parlement verslag te kan doen dat daar nou vir die eerste maal, in ooreenstemming met 'n nasionaal-goedgekeurde norm wat hoofsaaklik deur hierdie Provinsie genisieer is, toegelaat word dat 'n negatiewe bedrag begroot word vir 'n verminderde begrotingstoewysing, in plaas van 'n nominale R1 000 soos in vorige boekjare voorgeskryf. Ek moet s dat dit altyd vir my na 'n groot raaisel gelyk het toe ek hierheen gekom het, en ek wil graag die heer of dame vind wat dit ingestel het. Dit is meer 'n benadering van gesonde verstand hierdie, nie slegs vir ontledingsdoeleindes nie, maar wat ook tot groter deursigtigheid lei.

Ter opsomming, vandag vra ek dat 'n bykomende R505 miljoen begroot word.

Ten slotte, mnr die Speaker, wil ek my Kabinetskollegas, departementshoofde en die personeel in die Provinsie bedank vir hul ondersteuning en selfbeheersing in ons voortgesette veldtog vir fiskale dissipline. 'n Woord van dank moet ook gaan aan die mense van die Wes-Kaap vir hul begrip en ondersteuning vir ons pogings om die beste vlakke diens te lewer wat ons met ons beperkte middele kan doen.

*Die SPEAKER: Orde! Ingevolge die Rels sal die Wetsontwerp nou na die betrokke staande komitee verwys word.

Die Huis verdaag om 15:10.


850	DONDERDAG, 10 FEBRUARIE 2000



	DONDERDAG, 10 FEBRUARIE 2000	849



	DONDERDAG, 10 FEBRUARIE 2000	837


